Pastoor Tim Keller van die Redeemer Presbeteriaanse Kerk in Manhattan, sê dat die Christelike geloof uniek is en anders as al die ander godsdienste. Dit handel oor God, wat op soek is na die mens om ons na Homself te trek. In al die ander godsdienste is die mens op soek na God en probeer hulle om deur positiewe optrede, al die rituele te onderhou, goeie werke te doen en op allerhande ander maniere, die guns van hulle god te wen. Die Britse digter, Francis Thompson, illustreer die realiteit van hierdie waarheid wanneer hy in sy boek The Hound Of Heaven, beskrywe hoe onvermoeid God na hom gesoek het. Hy skryf hoedat hy vir God probeer vlug het, daardie God “wie se sterk voete hom met oneindige liefde gevolg het … aanhoudend en onvermoeid.” Maar God se onvermoeide ywer in sy soeke na die afgedwaaldes is nie net Thompson se verhaal nie. Die Kersverhaal vertel ons daardie wonderlike waarheid, God wat steeds na sy kinders soek. Soos Paulus dit stel: “God … het sy Seun gestuur … om ons wat aan die wet onderworpe was, los te koop” (Galasiërs 4:4,5). En dis nie net die Kersverhaal wat hierdie waarheid aan ons openbaar nie. Dis ook die verhaal van God se soeke na Adam en Eva na die sondeval. Sy soeke na my! En na jou! Waar sou jy vandag gewees het, as die Here nie vir jou The Hound of Heaven was nie?