My seun en sy vrou het ’n Amerikaanse bulhond, fris en sterk van lyf en met ’n vreesaanjaende gesig. En totdat ons vriende geword het, was “Buddy” nie seker dat hy my kon vertrou nie. As ek regop gestaan het, het hy van my af weggebly en my nie in die oë gekyk nie. Toe eendag ontdek ek dat as ek neerkniel, het Buddy se houding teenoor my verander. Sy growwe gesig met die sterk kakebeen, was nie langer ’n bedreiging nie en hy was ook nie meer bang vir my nie. Soos ’n lokomotief sou hy op my afstorm, sy groot pote op my skouers plaas en wag dat ek sy gespierde nek streel. Miskien is dit wat Buddy van my nodig gehad het, ’n afskaduwing van iets wat God vir ons gedoen het toe Hy na ons toe neergedaal en in die persoon van Christus tussen ons kom woon het. Vanaf daardie dag toe ons eerste ouers gesondig het en vir die Here weggekruip het, is dit ook ons neiging om Hom te vrees. Ons is bang om op sy terme die heilige God te nader (Joh. 3:20). Soos Jesaja voorspel het, het God getoon hoe laag Hy gewillig was om te buig om sondaars tot Homself te bring. Hy het die gestalte van ’n dienskneg aangeneem en so het ons Skepper gelewe en gesterwe om ons van ons sonde te bevry. En nou nog is Hy besig om ons uit ons geestelike duisternis na Homself te roep (Jes. 42:7) en ons sy vriende te noem (Joh. 15:15). Hoe kan ons dan nog bang wees vir Hom?