’n Paar jaar gelede het ’n aksie WWJD (Wat sou Jesus doen?) almal in die Christen gemeenskap gaande gehad. Daar is ’n spesiale armband ontwerp met dié woorde daarop gegraveer en dit het as herinnering aan mense gedien dat hulle Jesus in ag moet neem wanneer hulle keuses uitoefen en besluite moet neem. Indien ons vir ons Verlosser wil lewe, is dit noodsaaklik dat ons ons optredes en keuses moet toets aan die voorbeeld wat ons Heer en Meester vir ons gestel het. Onlangs, toe ek in ’n ander kerk was, het ek ’n ander boodskap opgemerk. Dié gemeente se slagspreuk was WDJD – (wat het Jesus gedoen). Dis inderdaad ’n belangriker vraag, want ons redding is daarvan afhanklik. Van die belangrikste take wat ons Here Jesus verrig het, word in 1 Korintiërs 15:3-4 deur Paulus beskrywe. “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” Ja, wat het Jesus gedoen? Hy het die lyding en skuld vir ons sondes gedra en die volle prys betaal. Hy het gesterf, die dood oorwin, uit die graf opgestaan, sodat ons kan lewe. En die feit is, ons sal nooit volkome kan besef wat Jesus sou doen, voordat ons nie aanvaar het wat Hy reeds vir ons aan die kruis van Golgota gedoen het, nie. Het jy dit reeds aanvaar?