Indien jy geneig is om ongelukkig te voel oor geleenthede wat onbenut verbygegaan het, of as jy jouself voortdurend oor die toekoms bekommer, vra jouself dan die volgende vraag: “Wat is reg voor my?” Met ander woorde, watter omstandighede en verhoudinge is tans voor jou. Hierdie vraag kan jou aandag aflei van mislukkings in die verlede en vrese vir die toekoms en jou weer na God terugbring, sodat jy besef wat Hy in jou lewe kan vermag. Dis presies wat God met Moses gedoen het by die brandende braambos. Moses was bekommerd oor sy eie swakhede en bevrees om God se opdrag om Israel uit slawerny in Egipte uit te lei, te gehoorsaam. Toe het God die eenvoudige vraag gestel: “Wat het jy in jou hand?” (Eks. 4:2). God het Moses se aandag van sy vrese oor die toekoms weggelei en hom beveel om te kyk wat in sy hand is, ’n herderstaf. God het hom getoon dat hy hierdie staf kon gebruik om wonderwerke voor ongelowige mense te doen. Namate Moses se geloof toegeneem het, het ook die wonderwerke wat hy deur die krag van God gedoen het, magtiger geword. Dink jy te veel aan die mislukkings van die verlede? Het jy vrese insake die toekoms? Onthou dan God se vraag: “Wat het jy in jou hand?” Watter huidige omstandighede en verhoudinge kan God gebruik tot jou voordeel en tot eer van sy Naam. Vertrou alles, en ook jou hele lewe, aan Hom toe.