’n Paar jaar gelede het ek op ’n snelweg gery toe my motor skielik probleme gegee het. Ek kon van die pad aftrek, het uitgeklim en so ewe die kap voor oopgemaak. Terwyl ek na die enjin gekyk het, het ek verleë gewonder: Wat help dit tog. Ek weet absoluut niks van motors en enjins af nie. Ek weet nie eers waar om te begin of wat om te doen nie. Somtyds voel sommige van ons so oor gebed. Waar moet ek begin? Dis wat die dissiples wou weet toe hulle Jesus gevra het: “Here, leer ons bid” (Lukas 11:1). Die beste plek om leiding te soek is in die voorbeeld en lering van ons Here Jesus. Dis waarskynlik dat jy twee vrae het waarop jy graag antwoorde sou wou kry: Waar moet ons bid? Jesus het in die tempel gebid, in die woestyn (Lukas 4) in stil plekke (Matteus 14:22,23) in die Tuin van Getsemane (Lukas 22) en aan die kruis (Lukas 23:34,46). Hy het alleen gebid, maar ook saam met ander. Kyk na sy lewe, volg sy voorbeeld en bid waar jy ook al mag wees. Wat moet ons bid? In die Onse Vader leer Jesus ons om te bid dat God se Naam verheerlik word en dat sy wil op aarde soos in die hemel gedoen word. Ons mag bid vir ons daaglikse voorsiening, vergifnis van sonde en verlossing uit versoeking (Lukas 11:2-4). Indien jy ’n goeie plek soek om te begin, volg die voorbeeld van die Onse Vader.