In haar boek Food in Medieval Times vertel Melitta Adamson van al die heerlike etes en eetgewoontes in die Middeleeue. Wildsvleis, pasteie, nageregte en ander eksotiese geregte illustreer hoeveel vreugde die mense in die voorbereiding van maaltye gevind het. Maar met al hierdie heerlike eetgoed het ’n probleem ingesluip – vraatsug en om te ooreet. Hierdie neiging is deur die Christelike kalender aangemoedig met al die vaste en feeste. Nadat gevas is, het die persoon gewoonlik te veel geëet en was vraatsug aan die orde van die dag. Om hierdie probleem aan te spreek het die teoloog, Thomas Aquinas, matigheid as Christelike deug aangemoedig. Hy het dit ’n “spesiale deug” genoem en gesê dat selfbeheersing na alle areas van die lewe uitgebrei moet word. Vir die Christen word matigheid egter nie deur eie krag en menslike dissipline verkry nie. Dit kom van die Heilige Gees wat aan die Christen selfbeheersing skenk: “Die vrug van die Gees … is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Galasiërs 5:22-23). Selfbeheersing is ’n gawe van die Gees en help ons om onsself allerlei dinge te ontsê (1 Kor. 9:25) Ooreet, oorwerk, te veel ontspanning, ja te veel bedieninge en so baie “goeie dinge” kan slegs reggestel word deur selfbeheersing. Vra die Here om jou daardie gawe te gee.