Komberse, lampe, ’n wasmasjien en droër, selfs die kos in die kaste – alles is te koop aangebied. Ek en my man het eendag by ’n veiling verbygeloop en belangstellend deur die huis gestap. Wat ’n toestand het ons daar aanskou! Alles was te koop aangebied. Stelle breekware het op die eetkamertafel gestaan en Kersfees versierings was in die voorportaal opgestapel. Speelgoed, gereedskap, bordspeletjies en poppe was in die motorhuis opgeberg. Toe ons wegstap, het ek gewonder of die eienaars trek, of hulle dringend geld nodig het en of hulle miskien oorlede is. Hierdie gebeure het my aan die woorde in Prediker laat dink: “Presies soos hy gekom het, so gaan hy” (Prediker 5:16). Ons word gebore met leë hande en ons sterf net so. Die goed wat ons aankoop, opberg en stoor is ons s’n net vir ’n tyd – dis alles dinge wat vergaan. Motte vreet aan ons klere, selfs goud en silwer kan hulle waarde verloor (Jakobus 5:2-3). Somtyds verloor ons ons rykdom deur teëspoed en dan is daar niks om vir ons kinders na te laat nie (Prediker 5:14). Om besittings en goedere hier en nou op te gaar, is regtig dwaas, want ons kan niks, maar niks met ons saamneem wanneer ons sterwe nie. Wat belangrik is, is om die regte gesindheid ten opsigte van besittings te hê. Indien wel, sal ons ons skatte op die regte plek opgaar – in die hemel.