Veels geluk liewe maatjie … veels geluk liewe maatjie … veels geluk liewe maatjie omdat jy verjaar … verjaar … Veels gelu … Nadat ek hierdie verjaarsdagliedjie twee keer deurgesing het, het ek die kraan toegedraai. Dit word glo gesê dat as ’n mens daardie liedjie twee keer deursing terwyl jy jou hande was (omtrent 20 sekondes), kan jy van die meeste bakterië ontslae raak. Maar dit hou nie lank nie. Ek moet hierdie proses herhaal elke keer as my hande weer vuil geword het. Gedurende Ou Testamentiese tye het die mense van God oor en oor offers gebring om vir hulle sonde te betaal en vergifnis te verkry. Maar die bloed van diere, het nie regtig die sonde weggeneem nie (Hebreërs 10:11). Slegs die kosbare bloed van ons Here Jesus kan ons sondes wegwas. Diereoffers is vandag nie meer nodig nie want Christus se groot offer … * was eens en vir altyd – anders as die diereoffers wat jaar vir jaar herhaal moes word (Hebreërs 10:1-3, 10). * reinig ons volkome van alle skuld en sonde – anders as die bloed van diere wat slegs ’n herinnering aan die straf op sonde is, en nooit ons skuld kan wegneem nie (Hebreërs 10:3-6 en11). “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak” (Hebreërs 10:14). Slegs deur die bloed van Jesus Christus kan ons volkome rein verklaar word.