Ouers is bly en dankbaar wanneer kinders leer om dinge op hulle eie te doen: soos om self aan te trek, tande te borsel, hulle skoenrieme vas te maak, ’n fiets te ry en self skool toe te loop. As volwassenes hou ons daarvan om ons eie pad te loop, ons eie besluite te neem, in ons eie huis te bly, en nie van ander afhanklik te wees nie. Indien iets onverwags opduik wat ons nie kan hanteer nie, soek ons boeke wat raad gee. En wat ons eintlik doen, alhoewel ons dit nie besef nie, is dat ons stelselmatig die gesindheid wat God by ons verwag, teengaan en uitdoof. Die Here het immers self aan sy dissipels gesê: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Johannes 15:5). Die waarheid is dat ons in ’n web van afhanklikheid lewe, ’n web waarin God in die sentrum staan, Hy wat alle dinge in stand hou en beheer. Die Noorweegse teoloog, Ole Hallesby, het verklaar dat die woord hulpeloos die beste beskrywing is van die hartsgesindheid wat die Here van sy kinders verwag wanneer hulle bid. “Net hulle wat waarlik hulpeloos is, kan regtig bid,” het Hallesby gesê. Meeste ouers voel hartseer wanneer die kind onafhanklik word, alhoewel hulle weet dat dit gesond en normaal is. Met God egter, verander hierdie wet. Ons word nooit onafhanklik van God nie en as ons dink ons doen wel, mislei ons onsself. Gebed is ons verklaring van afhanklikheid van die Here.