Michael St. Francis is ’n Franciskaanse broeder en hy dra altyd ’n bruin toga. Soms vra mense hom waarom hy dit dra. Hy verduidelik dan dat dit ’n habit genoem word en dat hy dit vir ’n spesifieke rede dra. Hy het aan joernaliste van die Hemispheres tydskrif gesê: “Ons het die keuse om dit te dra en baie van ons doen regtig moeite om dit altyd aan te trek, want dis soos ’n magneet. Mense vertel aan my dinge wat hulle nog nooit aan iemand anders vertel het nie. Vreemdelinge sal dinge wat hulle 30 jaar tevore gedoen het, bely en vra of God hulle kan vergewe.” Ons kan dus sê dat broeder Michael in “toeganklikheid” geklee is. Dwarsdeur die Evangelies sien ons dat Jesus deur verskillende tipes mense genader is. Hulle het gekom om lering te ontvang, genees te word, en vergifnis te ontvang. Toe Jesus gekritiseer is omdat Hy met tollenaars en sondaars omgegaan het, het Hy gesê: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars” (Markus 2:17). Hoe sien mense ons? Is ons vir hulle ontoeganklik? Is ons so besig met ons eie planne dat ons geen tyd vir ander het nie? Indien wel, dan dra ons nie die kleed van Christus nie. Indien die Verlosser in en deur ons lewe, sal sy ope arms ander mense uitnooi om hulle harte oop te maak en hulle laste neer te lê.