Robert Lowry het gedink hy sou die beste bydrae deur sy prediking kon lewer, maar hierdie 19de eeuse pastoor sal die beste onthou word vir die evangeliese liedere wat hy geskryf het. Hy het die musiek of woorde vir meer as 500 liedere geskryf, insluitende liedere soos Christ Arose, I need Thee every Hour, en Shall We Gather at the River? Gedurende 1860 toe die VSA ’n geweldige burgeroorlog in die gesig gestaar het, het hy die volgende woorde geskryf, woorde wat fokus op die onveranderlike Christus en nie op dreigende omstandighede nie. Al sou my vreugdes en sekerhede sterf, Die Here my Verlosser lewe; Al sou die duisternis om my toesak, Hy gee my liedere, sal my nie begewe! Geen storm kan my innerlike vreugde versteur, Terwyl ek aan daardie sekerheid vashou; Aangesien Christus Heer van hemel en aarde is, Wat kan my verhinder te sing en te vertrou? Lowry se vertroue op die Here, selfs gedurende moeilike tye, vind weerklank in die woorde van die psalmdigter: “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ’n mens nie; hy kan jou nie red nie … dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang” (Psalm 146:3-5). Of ons op die probleme van die lewe met vertroue óf vrees reageer, hang alles af van ons fokus. As ons glo “ die Here regeer vir altyd” (vs.10), hoe kan ons dan nalaat om te sing?