Terwyl ’n groep hoërskoolleerlinge ’n uitreik na Jamaika onderneem het, het hulle besoek afgelê by ’n tehuis vir tieners wat die wet oortree het en wie se ouers hulle nie kon hanteer nie. Dit was nie ’n gemaklike situasie vir die twee groepe tieners nie. Wat moes hulle vir mekaar sê? Hoe kon hulle regtig met mekaar kontak maak en verhoudings bou? Dit het nie lank geneem om die probleem op te los nie. ’n Paar minute nadat hulle arriveer het, het ’n sokkerwedstryd begin en ’n groepie van die VSA studente het van die Jamaikaanse tieners die stryd aangesê. Die sokkerwedstryd was ’n regte ysbreker en terwyl die tieners die bal heen en weer geskop het, het hulle mekaar leer ken. Na die wedstryd het gesprekke spontaan begin en vriendskappe is gevorm as gevolg van die gemeenskaplike belangstelling. In Handelinge 17 het die apostel Paulus aangetoon hoedat ons deur skeidsmure kan breek en dialoog aan die gang kry. Hy het met die inwoners van Atene oor iets gepraat wat almal se belangstelling aangegryp het – aanbidding! Hy verwys na hulle onbekende God (Handelinge 17:23). Op dieselfde wyse kan ons sport gebruik om met ’n medewerker of ’n buurman kontak te maak. Die moontlikhede is eindeloos. Indien jy na mense om jou wil uitreik, soek na ’n gesamentlike belangstelling, iets soos sport en kyk hoe die skeidsmure verbreek word.