Alles was doodstil in die tuin. Terwyl ek besig was om by my werkstafel te werskaf het Maggie, ons hondjie, naby op die gras gelê. Skielik was daar die geritsel van droë blare en meteens het alles verander. Maggie het opgespring en om ’n boom gesirkel, haar oë gevestig op ’n groen houtkapper wat styf aan die boomstomp vasgeklou het. Maggie het gekom toe ek haar geroep het, maar ek kon haar nie sover kry om na my te kyk nie. Haar oë het op die speg gevestig gebly. Alhoewel sy fisies naby my was, was haar gedagtes en begeertes by die voël in die boom. Maggie en die houtkapper laat my dink aan hoe gou ek ook met wêreldse dinge betrokke raak en my oë van Jesus af wegneem. Ou versoekings, nuwe verantwoordelikhede en begeertes na besittings en plesier kan so maklik en gou my aandag aftrek van die Een wat weet wat vir my die nodigste is. ’n Soortgelyke toestand het die Fariseërs aangetas (Matteus 15:8-9). Hulle het in die tempel gedien en ander van God geleer, maar hulle harte was ver van Hom af. Ons kan ook baie betrokke in die gemeente wees, lering gee en so meer, maar nogtans ver van God af leef. Selfs ons geestelike dienswerk word kragteloos as ons fokus nie op Jesus is nie. Maar as ons ophou om “hardkoppig” (Handelinge 7:51) te wees, kan die Here ons oë van waardelose dinge wegdraai sodat ons op Hom kan fokus.