Ons kan weet ons is besig om ouer te word as ons die volgende opmerkings aan ander maak: “Kan jy dit glo dat daardie bofbalspelers nog so jonk is?” En dis ’n sekere bewys dat ons ouer word as ons nie langer vra “Hoe gaan dit?” nie, maar eerder sê:“Haai, jy lyk nog so goed,” asof ons verras is. Om ouer te word is onafwendbaar. Ongelukkig het die samelewing ons geleer om die ouderdom te vrees en dit op enige moontlike manier te probeer versteek. Maar om ouer te word kan in werklikheid iets besonders wees. Volgelinge van Jesus het die vermoë om al beter te word namate hulle ouer word. Soos Paulus dit stel: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” (2 Korintiërs 4:16). Net soos daar fisiese aspekte is wat aantoon dat ons ouer word, so is daar ook tekens wat wys dat ons beter word. In plaas van om meer klaerig en onvergenoeg te word, word die kind van die Here meer vergewensgesind, liefdevol en simpatiek. Om ouer te word is as ’t ware ’n voortsetting van die reis om meer en meer soos Jesus te word, en dit beteken dat namate die jare verbygaan moet ons houding in ’n toenemende mate die karakter en optredes van ons Here weerspieël. Namate ons dus ouer word, laat ons die geleenthede aangryp om geestelik meer soos Jesus te word. Ons vriende sal dan agterkom dat ons beter lyk namate die jare toeneem.