’n Digter het by geleentheid geskryf: In die reël is die mens ’n dwaas. As dit warm is, wil hy koue hê, as dit koud is, wil hy warmte hê, wat hy nie het nie, dit wil hy hê. Hoe dwaas! Wat ’n besondere kennis van die menslike natuur! Tog lees ons in Filippense 4:11 dat Paulus sê: “Ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.” Is dit moontlik dat ’n mens so tevrede kan wees? Vir Paulus was dit moontlik. Hy beskryf sy siening van die lewe só! “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Filip. 4:12,13). Paulus se verhouding met die Here was so intiem dat hy enige moeilike situasie deur God se genade kon hanteer. Sy tevredenheid was nie van uiterlike omstandighede afhanklik nie, maar gebaseer op sy verhouding met Christus. Paulus herinner ons daaraan dat tevredenheid en berusting nie oornag kom nie. Dis iets wat ons moet aanleer. Namate ons verhouding met God ontwikkel deur omstandighede en die verloop van tyd, leer ons om God meer te vertrou en minder op onsself te reken. Paulus het geweet dat Christus hom die krag vir enige situasie sou gee (vs. 13). Maak nie saak wat jy vandag moet hanteer nie, deur gebed sal jy krag ontvang om rustig te wees.