Addie, ons 3 jarige kleindogtertjie, was ’n bietjie bekommerd. Dit was Sondag middagete en iemand het al begin eet toe sy opmerk: “Ons het nog nie gebid nie.” Sy was so bang dat ons dalk sou vergeet om die seën te vra. Haar bekommernis was ’n goeie teken. Dit het getoon dat Addie, ten spyte van haar jeugdige ouderdom, een van daardie goeie gewoontes van haar ouers aangeleer het. Hierdie eenvoudige gebruik, om voor etes te bid, sou haar help om die waarde van gebed te besef, iets wat vir haar in later jare baie goed te staan sou kom. Om kinders vandag groot te maak in hierdie eeu van vyandigheid teen die evangelie van Christus, is beslis nie maklik nie. Ouers wonder soms desperaat wat die beste manier is om hulle kindertjies te leer hoe om vir Jesus te lewe en Hom te behaag. Spreuke dui aan dat die sleutel om kinders reg te lei, is dat ouers hulle kinders in die Woord moet onderrig (Spreuke 1:8). Hulle moet geleer word om te luister na wyse raad (Spr. 2:2), leer om te onderskei (Spr. 2:3) en die vrese van die Here te begryp (Spr. 2:5). Hulle moet hulle ouers se onderwysing onthou (Spr. 3:1) en insig verkry (Spr. 4:1). Al hierdie dinge lei daartoe dat kinders goeie gewoontes kweek en dat hulle hierdie lering in die latere lewe onthou (Spr. 4:1-4). Het jy kinders of kleinkinders? Dis nooit te vroeg om hulle te leer hoe om te lewe nie.