Terwyl ek eendag deur ’n boekwinkel gestap en na verjaarsdagkaarte gekyk het, het ek op ’n kaartjie afgekom wat my nogal laat glimlag het. Die boodskap het so gelui: “Jy is net eenmaal jonk, maar jy kan vir altyd onvolwasse bly.” Die kaart het my laat dink. Dis ’n besondere gedagte om te dink jy hoef nie ouer te word nie en mag altyd met Peter Pan en ander kinderprogramme beïndruk bly. Maar ons weet almal dat om onvolwasse te bly, beslis onaanvaarbaar is. Vir die Christen is dit absoluut noodsaaklik dat ons volwasse word. Nadat ons weergebore is en volgelinge van Christus geword het, mag ons nie geestelike babas bly nie. Die Skrifte daag ons uit om meer soos Jesus te word. Toe Paulus aan die gemeente in Korinte geskryf het, het hy gesê dat die meeste van hulle probleme daaruit voortspruit dat hulle nog geestelik onvolwasse is. In 1 Korintiërs 3 vers 1 sê hy: “Ek moes [met julle] praat soos met wêreldse mense, met kindertjies in die geloof in Christus.” Hoe groei ons om volwasse te word en nie net geestelike babas te bly nie? Petrus raai ons aan: “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Ons doen dit deur te mediteer oor die Woord en tyd aan gebed te bestee (Ps.119:97-105; Hand. 1:14). Soos die sukkelende gemeente in Korinte, mag dit tyd wees vir ons om volwasse te word.