Mozart word as ’n musikale genie vereer. In een geval is hy selfs deur die melodie van ’n voël geïnspireer. Mozart het ’n spreeu as troeteldier gehad en die voël se sang het hom so geïnspireer dat party mense beweer dat hy ’n stuk musiek gekomponeer het gebasseer op die melodie van die spreeu se getjirp. Voëls was ook vir die psalmdigters ’n inspirasie. In Psalm 104 word God geprys omdat Hy vir alle lewende wesens sorg, al die wesens wat Hy op aarde geplaas het. Hy vertel hoe voëls deur die lug vlieg, op takke van bome sit en lofliedere sing: “Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke” (Psalm 104:12). Die natuur het die psalmdigter se hart met lofprysing en dank vervul en ek dink die sang van voëls was ook vir hom ’n inspirasie. Dit gebeur nogal dikwels dat die skoonhede wat ons in die natuur sien ons daartoe dring om die Here te loof. Hierdie tema word dwarsdeur die Skrif herhaal: “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend” (Psalm 19:2). Maar dis nie net wat ons sien nie, maar ook wat ons hoor, wat ons dring om ons hemelse Vader te loof. Terwyl ons ons daaglikse take verrig, kan ons ons harte instem om die melodieë te hoor wat God in sy skepsels geplaas het. Dit kan ons help om die Skepper nog meer en met groter oorgawe te verheerlik.