Ek en my vrou verstaan mekaar nie altyd so goed nie. So is dit byvoorbeeld vir haar onbegryplik dat ek na ’n hele bofbalwedstryd kan kyk, terwyl nie een van die spanne ’n kans het om die eindrondtes te haal nie. En ek kan weer glad nie haar liefde om inkopies te doen, verstaan nie. Om iemand baie lief te hê beteken nie noodwendig dat jy daardie persoon volkome moet verstaan nie. Dis goeie nuus, want daar is geen manier of moontlikheid dat ons die diepe geheimenisse van die God wat ons liefhet, kan deurgrond nie. Met ons beperkte insig en selfgerigtheid kan ons nie deurgrond waarom God doen wat Hy doen nie. Nogtans sal sommige persone byvoorbeeld na tragedies kyk en dan hulle rûe op God draai met die gedagte dat hulle met hulle beperkte kennis van die situasie, beter weet as God, Hy wat alles weet en verstaan. Ja, beslis, indien ons God kon verstaan – as Hy maar niks meer as ’n verheerlikte mens was nie – dan sou ons Hom mos nie kon vereer en aanbid nie. Een rede waarom ons weet dat God so groot en ewig is, is juis omdat ons Hom nooit sal kan verstaan en deurgrond nie. Sy gedagtes is nie ons s’n nie. Die apostel Paulus vra: “Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee? “ (1 Korintiërs 2:16). Die antwoord is vanselfsprekend: Niemand nie! Prys die Here omdat al kan ons Hom nie verstaan nie, kan ons Hom vertrou.