Die Iguazu watervalle op die grens van Brasilië en Argentinië, is ’n skouspelagtige watervalsisteem wat uit 275 valle bestaan en oor 2.7 kilometer van die Igazu rivier strek. Op ’n muur, aan die Brasiliaanse kant van die valle, is die volgende woorde aangebring.”Hoog bo die geraas van baie waters, hoog bo die golwe van die see, troon die Here in sy koninklike mag” (Psalm 93:4). En onderaan hierdie woorde: “God is altyd groter as al ons probleme.” Die skrywer van Psalm 93, wat hierdie woorde gedurende die tydperk van die konings van Israel neergeskryf het, het geweet dat God die Koning oor alle konings is. “Die Here is Koning” skryf hy. “U is van altyd af daar” (vs.1, 2). Maak nie saak hoe hoog die golwe of hoe sterk die vloedwaters, God is altyd daar en Hy is in beheer. Die gedruis van die magtige waters, is voorwaar aangrypend, maar dis iets heel anders om in die waters te wees en voortgesleep te word na die valle. Miskien is dit die situasie waarin jy jou vandag bevind. Fisies, of finansiëel of in jou verhoudings mag daar probleme wees en dit voel vir jou asof jy binnekort oor die valle gaan stort. Maar onthou, in sulke situasies het die Christen iemand na Wie hy of sy toevlug kan neem. Hy is die Here en Hy kan “deur sy krag wat in ons werk … oneindig meer … doen as wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:20), want Hy is groter as al ons probleme.