Geruime tyd gelede het my vrou besluit dat om binne die spoedbeperking op paaie te hou, vir haar groot vrede gee. Sy sê: “Ek het niks nodig nie, ek hoef nie vir verkeerspolisie bang te wees nie en ek hoef nooit bekommerd te wees dat ek ’n boete sal moet betaal omdat ek te vinnig gery het nie.” Selfs wanneer ons lang afstande ry, en wanneer die kilometers langsaam verbygaan, stel sy die spoedmeter so dat sy binne die spoedgrens bly. “Buitendien,” verseker sy my met erns, “dit is immers die wet.” In Romeine 13 verse 1 tot 10 word ons verantwoordelikheid teenoor die regering en die wet van God duidelik uiteengesit. Indien ons die wette van die regering gehoorsaam, hoef ons nie vervolging of straf te vrees nie en dan kan ons ’n skoon gewete behou omdat ons doen wat reg is. (Rom. 13:3,5). Paulus het die volgelinge van Christus in Rome aangemoedig om die owerhede te respekteer en aan hulle te gee wat verskuldig is, belasting of aksyns, of ontsag of eer (Rom. 13:7). Maar dan gaan hy verder en sê: “Julle moet aan niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit” (vs. 8). Dit is ons plig om die wette van die land en die regering te gehoorsaam en dis ons voorreg om God se wil te doen deur mekaar lief te hê. En God se wet is die”volmaakte wet wat ’n mens vrymaak” (Jakobus 1:25).