Ek was opgewonde om na die bofbalveld te gaan om na die wedstryd tussen die Detroit Tigers en die Chicago White Sox te gaan kyk. Ek het my Tigers t-hempie met trots aangetrek, maar omdat dit koud was, moes ek ’n trui bo-oor aantrek voordat ek na die stadion gegaan het. Gevolglik was ek nogal teleurgesteld om te dink dat niemand by die veld sou kon sien watter span ek ondersteun nie. Na ’n drie uur vertraging as gevolg van reën, het die wedstryd eindelik begin en kon ek vir my span skree en toon wie ek ondersteun. Die apostel Paulus se lojaliteit is iets wat hy openlik gedemonstreer het – sy lojaliteit teenoor Jesus Christus. Hy skryf aan die gelowiges in Rome: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Romeine 1:16). Hy het geweet dat die evangelie die krag van God was waardeur mense gered kon word, omdat Jesus sy (Paulus) se eie lewe dramaties verander het. In sy prediking en getuienis het hy Jesus verkondig, die Een aan wie hy sy hele lewe gegee het en Wie hy met toewyding gedien het (Handelinge 9). Die gelowiges in Rome was ook bekend vir hulle getrouheid en liefde vir Jesus. Paulus het van hulle gesê: “In die hele wêreld praat die mense oor julle geloof” (Romeine 1:8). Hoe is dit met jou lojaliteit teenoor Jesus gesteld? Dien jy Hom openlik? Weet ander waar jy staan?