Toe klein Kofi die oggend na Sondagskool by die huis kom, het sy mammie hom gevra wat hy die oggend geleer het. Sy vinnige antwoord spreek boekdele: “Gehoorsaamheid … alweer!” Alhoewel ek baie ouer is as Kofi moet ek beslis saamstem dat gehoorsaamheid ’n les is wat God wil hê ons moet oor en oor weer leer. Ja, soms is ons ook traag en wil dit nie graag leer nie, maar ons moet. Oswald Chambers skryf: “Die Here God gee my nie allerhande reëls nie, maar Hy maak sy standaarde baie duidelik. Indien my verhouding met Hom een van liefde is, sal ek altyd doen wat Hy sê … as ek huiwer, dan is dit omdat ek iemand anders in sy plek geplaas het … myself.” Wanneer ons gehoorsaam is, toon ons aan God dat ons Hom liefhet en dat ons meer geloof in Hom het as in onsself. Arthur W. Pink sê: “Liefde is ’n beginsel van handeling wat uitgedruk word in dade, dade wat die persoon wat bemin word, behaag.” Om die Here te gehoorsaam beteken om ons eie wil op die altaar te plaas en te besluit om te doen wat Hy van ons vra. Die Here verlang gehoorsaamheid van sy volgelinge en Jesus het baie nadruk daarop gelê. Hy het by geleentheid gevra: “Watter sin het dit dat julle my aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). En Hy rig hierdie uitdaging aan ons: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer” (Johannes 14:15).