Toe my kinders nog jonk was, het ek nogal gedink hulle sou beïndruk wees met dit wat ek tot stand gebring en bereik het – dat hulle my boeke sou lees en beïndruk sou wees met al my toesprake en optredes. Maar toe kom ek agter dat hulle nie een van my boeke gelees het nie en ook nie bewus was van die optredes wat ek gehad het en waar ek toesprake gelewer het nie. Toe my oudste seun eindelik een van my boeke gelees het, het hy aan my gesê die enigste rede waarom hy dit gelees het, was sodat ek nie langer aan mense kon sê dat my kinders nog nooit van my boeke gelees het nie! Laat ons maar eerlik wees – in die meeste gevalle is ons kinders nie beïndruk met ons prestasies nie. Die enigste manier dus om die gaping te oorbrug is om hulle in hulle wêreld te ontmoet – daar waar hulle is, soos om ’n speletjie met hulle te speel of agter in die tuin ’n bal rond te gooi of te skop. Dis wat Jesus met ons gedoen het. Johannes het van Jesus gesê: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien” (Johannes 1:14). Met ander woorde, Jesus het neergebuig na ons vlak toe, toe Hy na hierdie wêreld gekom het en dit het tot sy grootste daad gelei: om die gaping tussen ons wêreld en Syne eens en vir altyd te oorbrug. Eers as ons dit besef, kan ons begin om te verstaan hoe waardig Hy is om ons lof, dank en aanbidding te ontvang.