Nuus dat ’n sonsverduistering op 22 Julie 2009 sou plaasvind, het tot ontstellende voorspellings gelei. Daar is aangevoer dat die verduistering die aantrekkingskrag so sou beïnvloed dat van die tektoniese plate “sou meegee” en dit sou tot ’n geweldige aardbewing en ’n ingrypende en verwoestende tsunami in Japan lei. Toe het die VSA se Geologiese Oorsig ’n verklaring uitgereik: “Geen wetenskaplike kon nog ooit ’n verwoestende aardbewing reg voorspel nie. Hulle weet nie hoe nie, en verwag ook nie om binne die nabye toekoms wel te weet nie.” So was daar ook al baie valse voorspellings aangaande die wederkoms van Christus – ja, ten spyte van ons Here se ernstige woorde: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit” (Matteus 24:36). Jesus het aan sy volgelinge gesê dat in plaas van om die dag te probeer voorspel moes hulle liewer “waaksaam bly” (vs. 42) en “gereed wees” (vs. 44). Petrus waarsku ons: “Die dag van die Here sal so onverwags soos ’n dief kom” en hy voeg by: “Julle [moet] deste meer vroom en aan God toegewy leef” (2 Petrus 3:10-11). Ons moet strewe om tot eer van God te lewe – dis wat Hy verwag, daarop moet ons fokus, terwyl ons op Hom wag … “op daardie dag [wanneer] die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn” (Titus 2:13).