Volgens die Christelike oorlewering is die apostel Paulus in 67 n.C in Rome onthoof en daar begrawe. In 2009 het wetenskaplikes toetse gedoen op dit wat hulle as sy oorskot beskou het. Alhoewel die toetse op die beenfragmente bevestig dat dit uit die eerste of tweede eeu n.C dateer, kon ’n positiewe identifikasie nie gemaak word nie. Maar ongeag waar Paulus se beendere ook al mag rus, sy hart leef steeds voort in sy Nuwe Testamentiese briewe. Terwyl hy in die tronk in Rome aangehou is, het Paulus aan die gemeente in Filippi geskryf en die doel van sy lewe aan hulle uiteengesit. Hy het verklaar dat dit “my vurige verlange [is] en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie [maar] … deur my hele wese Christus verheerlik, in lewe en sterwe, want om te lewe is, vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Filip. 1:20-21). As ons vandag hierdie woorde van Paulus lees, is dit vir ons ’n uitdaging om ons eie harte en lewens te ondersoek? Het ons dieselfde passie en liefde vir Jesus as wat Paulus gehad het? Is dit ons lewensdoel om Hom te verheerlik in alles wat ons doen en sê, elke dag van ons lewe? Lank nadat ons weg is, sal diegene wat ons geken het ons gesindheid onthou. Mag ons, soos Paulus, ’n nalatenskap van hoop en bemoediging nalaat – ’n hoop wat op Jesus Christus gebaseer is.