In die film Chariots of Fire, is een van die karakters, die legendariese Britse atleet, Harold Abrahams. Hy is desperaat om te wen, maar in ’n voorafgaande 100 meter wedloop, in voorbereiding vir die 1924 Olimpiese Spele, word hy deur sy opponent, Eric Liddell, geklop. Sy reaksie is diepe teleurstelling en wanhoop. Toe sy vriendin Sybil, hom probeer bemoedig, verklaar hy woedend: “Ek hardloop om te wen. As ek nie kan wen nie, sal ek nie hardloop nie!” Sy reageer wyslik: “Maar as jy nie hardloop nie, kan jy nie wen nie!” Die lewe is vol teleurstellings en ons as Christene word nie daarvan gevrywaar nie. Maar in die wedloop van die Christelike lewe moedig Paulus ons aan om aan te hou hardloop. Hy sê aan die Korintiërs: “Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen” (1 Korintiërs 9:24). Ons moet met getrouheid en volharding hardloop wetende dat ons tot eer van ons Koning deelneem en dat ons eendag van Hom ’n kroon sal ontvang. Indien ons huiwerig word – ophou om die Here van harte te dien en begin om toe te gee aan sonde – bestaan die gevaar dat ons die ryke loon kan verbeur wat ons sou ontvang het, as ons ons beste gelewer het. Sybil was reg. “As jy nie hardloop nie, kan jy nie wen nie.” Laat ons dus volhard.