Persone aan die universiteit van Chicago, het toetse gedoen wat bewys dat mense negatiewe beelde beter as positiewe beelde onthou. Alhoewel mense beweer dat hulle wil wegdraai van al die negatiewe nuus in die media, is dit tog so dat berigte oor tragedies, siektes, ekonomiese ineenstortings en dramatiese gebeure altyd die aandag trek. Katherine Hankey (1834-1911) was meer geïnteresseerd in die “goeie nuus.” Sy het ’n dringende verlange gehad om te sien dat jongmeisies na Jesus kom. In 1866 het sy baie siek geword. Terwyl sy in die bed gelê het, het sy gedink aan al die persone met wie sy oor Jesus gepraat het en sy het gewens dat iemand haar sou kom vertroos met die “ou, ou verhaal.” Dis toe dat sy haar pragtige gedig geskryf het wat later ’n loflied geword het: Tell Me The Old, Old Story. Ons word nooit moeg om die ou, ou verhaal te hoor nie – die verhaal van God se liefde en dat Hy sy enigste Seun gestuur het na hierdie ou wêreld (Johannes 3:16). Jesus het ’n volmaakte lewe gelei, ons sonde op Homself geneem toe Hy gekruisig is, en op die derde dag het Hy weer opgestaan (Lukas 23:44-24:3). Indien ons Hom as ons Verlosser en Saligmaker aanneem, ontvang ons die ewige lewe en word ons sy kinders (Johannes 1:12). Vertel vandag die ou, ou storie aan iemand wat jou pad kruis. Hulle het die goeie nuus nodig.