Dr. Scott Kurtzman, die hoof sjirurg van die Waterbury hospitaal in Con-necticut, was onderweg om ’n lesing te gaan aanbied toe hy op ’n verskriklike ongeluk afgekom het. Daar was 20 voertuie in die ongeluk betrokke. Die dokter het dadelik besef daar’s hulp nodig. Hy het deur die metaalstrukture geworstel en uitgeroep: “Wie het hulp nodig?” Nadat hy vir 90 minute daar behulpsaam was en al die beseerdes na omliggende hospitale geneem is, het dr. Kurtzman opgemerk: “’n Persoon wat my opleiding en aanleg het, kan onmoontlik by ’n ongelukstoneel verby ry en nie help nie. Ek weier om so selfsugtig te lewe.” Jesus het ’n gelykenis vertel van ’n man wat stilgehou het om iemand anders te help (Lukas 10:30-37). ’n Joodse man is aangeval, beroof en vir dood agtergelaat. ’n Joodse priester en ’n Leviet het anderkant verbygeloop en nie hulp verleen nie. Maar ’n veragte Samaritaan het verbygekom, die man gesien en deernis betoon. Hy het tot dade oorgegaan, die man se wonde verbind en hom op sy donkie gelaai, na ’n herberg geneem en ook vir al sy mediese koste betaal. Hy het die eienaar van die herberg belowe om alle addisionele kostes te vereffen wanneer hy terugkeer. Daar is so baie mense om ons wat ly en hulp nodig het. O, laat ons tog ag gee op hulle lyding en hulp verleen. Laat ons soos dr. Kurtzman en die Samaritaan betrokke raak by hulle wat ly.