Emma Gray was 95 jaar oud toe sy in Junie 2009 oorlede is. Vir meer as twee dekades was sy ’n huiswerker in ’n groot woning. Elke aand terwyl sy met haar take besig was, het sy gebid vir wysheid en veiligheid van die man in wie se diens sy gestaan het. Alhoewel sy vir 24 jaar op dieselfde plek gewerk het, het die inwoners van die woning elke vier jaar verander. Gedurende daardie jare het Emma gebede vir ses presidente van die VSA opgestuur: Eisenhower, Kennedy, Johnson, Nixon, Ford en Carter. Emma het wel haar gunstelinge gehad, maar sy het vir hulle almal getrou gebid. Sy het die riglyne wat ons in 1 Timoteus 2 vind, getrou gevolg: “[Bid] vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen” (vs. 2). Daardie teks gaan voort om te sê dat daar gebid moet word vir ’n “rustige en stil lewe” en dat so ’n persoon “in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid” kan lewe. Dit is “aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timoteus 2:2-4). Omdat die Here “die gebed van die regverdiges” hoor (Spreuke15:29) wie weet hoe Hy Emma se gebede gebruik het? Ons lees in Spreuke 21:1: “Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ’n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.” Soos Emma moet ons ook vir ons leiers bid. Is daar iemand vir wie jy vandag spesifiek moet bid?