Korporaal Desmond Doss was die eerste persoon wat ’n gewetensbeswaar teen deelname aan die oorlog gehad het, maar tog later die Eremedalje van die Amerikaanse Kongres, die hoogste denkbare militêre toekenning, ontvang het. As toegewyde Christen was hy oortuig dat hy nie die reg het om ander mense dood te maak nie. Nogtans wou hy sy land en volk dien en het toe ’n mediese beampte geword. Aanvanklik het sy mede-soldate hom bespot omdat hy geweier het om ’n wapen te hanteer. Hulle het gelag toe hy saans sy Bybel lees en langs sy bed neergekniel het om te bid. Maar toe die gevegte begin, het alles verander. Gedurende die geveg by Okinawa tydens die Tweede Wêreldoorlog in Mei 1945, het Doss sy eie lewe herhaaldelik in gevaar gestel om gewonde makkers te red. Deur sy onselfsugtige optrede, het hy die respek van persone wat hom voorheen bespot het, afgedwing. Toe Petrus onregverdig gekritiseer is, het hy aan sy mede- Christene gesê: “Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie” (1 Petrus 3:14). Hy het hulle aangemoedig om die Here te verheerlik en ’n beleefde antwoord te gee aan elkeen wat hulle uitgevra het oor hulle geloof (vs. 15). Mag ons optrede teenoor ’n wêreld wat dikwels vyandiggesind is teenoor ons Jesus Christus, een van liefde wees.