Verlede week het ek verskeie geleenthede gehad om deernis te betoon. Ek het nie volmaak opgetree nie, maar ek was tevrede oor die manier waarop ek een situasie in besonder hanteer het. Ek het nie kwaad geword nie en gesê: “Ek kan verstaan dat so iets gebeur het. Ek het beslis ook my aandeel aan die foute gehad,” en dit daarby gelaat. Volgens my eie graderingstelsel het ek hoë punte aan myself toegeken. Nie perfek nie, maar byna! Maar in my agterkop (alhoewel ek dit nie graag wil erken nie), het die hoop gehuiwer dat ek kon verwag om in die toekoms met dieselfde deernis deur ander mense behandel te word. Ek het immers genade betoon! Die volgende Sondagoggend in die erediens het die gemeente Genade Onbeskryflik Groot gesing en meteens het die vermetelheid van my houding my soos ’n voorhamer getref toe die woorde “verlore seun, ’n wegloopkind, weer in die vaderhuis” in my ore weerklink het. Hoe op aarde kon ek so geredeneer het? Hoe kon ek gedink het dat ek iets van God verdien? Die genade wat ons aan ander betoon, is nie ons s’n nie. Ons kan dit alleenlik deurgee aan ander, omdat God dit eerste aan ons betoon het. Goeie diensknegte soek voortdurend na geleenthede om aan ander mee te deel wat hulle van die Here ontvang het. Mag almal van ons “goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God” (1 Petrus 4:10) wees. Is ons dit?