Een van die groot voordele om by die Moody Bybelinstituut te studeer, is om te hoor van al die gegradueerdes wat daar klaargemaak en die wêreld vir Christus beïnvloed het. Die verhale van hulle selfopoffering, volharding en passie vir die evangelie, was werklik inspirerend. Gedurende die laaste jare van die 19de eeu het Mary McLeod Bethune vir twee jaar by Moody in Chicago studeer. Sy wou ’n sendeling na Afrika word. Maar nadat sy haar graad behaal het, wou geen sendingorganisasie aan haar, as ’n Afrika- Amerikaanse dame, die geleentheid gee om na die sendingveld te gaan nie. Ten spyte van die feit dat sy afgekeur is, het sy ’n skooltjie vir Afrika-Amerikaanse dogters in Florida begin wat uiteindelik die Bethune-Cookman Kollege geword het. Sy het ’n kragtige bydrae gelewer om die status van vroue te verander. Mary se nalatenskap was beïnvloed deur haar vasbeslotenheid om Jesus te dien, selfs al is haar ideale oënskynlik vernietig. Sy was oortuig daarvan dat God aan haar die “boodskap van versoening” (2 Korintiërs 5:18) toevertrou het, en sy was vasbeslote om nie op te gee nie. Dit was egter nie net vir Mary McLeod Bethune ’n mandaat nie, maar ook vir elkeen van ons. Om mense te vertel dat hulle met God versoen kan word deur Jesus Christus, is ’n opdrag aan elkeen van ons. Soek maniere om ’n verskil te maak – net daar waar jy is vandag.