Toe ’n skuldige politikus deur die media aangeval is oor skandalige en onbehoorlike optrede, het hy die volgende pleidooi gelewer: “Ek kan glad nie enige sodanige gebeure onthou nie.” Dis maar net nog ’n voorbeeld van ’n publieke figuur, wat van die strategie van aanneemlike ontkenning gebruik maak om homself te regverdig. Hulle probeer om hulleself te beveilig deur te kenne te gee dat hulle geen kennis van die gebeure dra nie. Gevolglik word iemand anders geblameer vir die skuldige se dade. Somtyds het ons, as Christene, ons eie tipe aanneemlike ontkenning. Ons beweer dat ons nie weet van dit wat ons glo verkeerd gedoen het nie, of ons rasionaliseer en blameer ander – maar onthou net, God ken die waarheid. Die Bybel leer uitdruklik: “Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike” (1 Samuel 16:7). Hierdie woorde is waar, óf die hart rein is en óf dit beklee is met ’n kleed van valse onskuld. Ons mag ander mense om die bos lei, want hulle sien net die buitekant, maar die Here kyk tot diep in ons harte – of dit nou goed is of sleg! Daarom is dit wys om ons foute en tekortkominge eerlik teenoor die Here te erken. Hy wil hê dat ons die waarheid praat (Psalm 51:6). Die enigste manier om aan die straf op sonde te ontkom en ons verhouding met die Here te herstel, is deur eerlik skuld voor die Here te bely (Psalm 51:3,4).