Matt Emmons, houer van die Olimpiese Goue Medalje vir skyfskiet in 2004, was gereed om nog ’n kompetisie in Athene te wen. Hy was reeds ver voor en het gehoop om ’n kol met sy laaste skoot te skiet. Maar iets het fout gegaan – hy het wel die kol getref, maar ongelukkig het hy na die verkeerde teiken geskiet en daardie fout het hom in die agste plek geplaas en ’n medalje gekos. In Paulus se brief aan die Filippense praat hy van die noodsaaklikheid vir die Christen om op die regte teiken te fokus. “Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus,” het hy gesê. Paulus gebruik die term wenstreep as illustrasie van ’n atleet wat aan ’n wedloop deelneem. Dis nogal interessant dat dieselfde woord destyds gebruik is vir die skiet van pyle na ’n teiken. In albei gevalle is dit belangrik dat die deelnemer gefokus moet wees en vir die gelowige is daardie fokus die najaging van die doel om steeds en meer soos ons Verlosser, Jesus te word (Romeine 8:28-29; Galasiërs 5:22-23). Wat is vandag die fokus van jou lewe? Word al jou tyd in beslag geneem om jou lewensomstandighede te verbeter sodat jy gemaklik kan lewe? Indien jy ’n Christen is, is die regte teiken waarna jy moet mik, om meer soos Jesus te word (2 Korintiërs 3:18). Maak vandag seker dat jy na die regte teiken korrel.