In haar boek Garlic And Sapphires: The Secret Life of a Critic in Disguise, vertel Ruth Reichl wat sy beleef het toe sy as die New York Times se restaurant kritikus gewerk het. Omdat sy die invloedrykste kritikus in die land was, het top restaurante haar foto orals getoon, sodat werknemers haar kon herken. Hulle wou haar met hoogstaande diens beïndruk, sodat hulle positiewe kritiek in die koerant kon kry. In reaksie hierop het Reichl ’n slim plan beraam. Sy wou as ’n gewone kliënt behandel word en het haarself een keer as ’n ou dame voorgedoen. Die betrokke restaurant het haar lank laat wag voordat hulle haar geplaas het en ook nie vinnig op haar versoeke reageer nie. Jakobus het hom in die vroeë kerk uitgespreek teen voortrekkery: “[Julle] moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en … daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere aan en sê vir hom: ‘Kom sit u hier …’ maar vir die arm man sê julle: ‘Gaan staan jy daar anderkant’ … het julle dan nie … onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? ” (2:3-4). Indien besoekers ons dienste bywoon, is ons onpartydig of bevoordeel ons sekeres? God beveel ons om vir alle mense om te gee ongeag sosiale status.