Ek was baie dankbaar toe ek gehoor het dat ’n vriend ’n Bybel aan my buurvrou gegee het. Maar toe sê sy vir my dat sy opgehou het om die Bybel te lees, omdat sy nie kon verstaan waarom die Here nie Kain se offer wou aanvaar nie. “Hy is immers ’n boer” het sy gesê, “en as ’n boer het hy van die groente gebring wat hy gekweek het. Wou God dan gehad het hy moes iets anders koop om te offer?” Tragies om te sê, maar sy het die verkeerde afleiding gemaak. Dit was nie dat God nie van groente gehou het nie, maar Hy het geweet dat Kain se gesindheid nie reg was nie. Hy was nie ten volle aan God oorgegee nie en dit word bewys deur die feit dat hy nie in God se weë gewandel het nie. Dis so maklik om ’n uiterlike skyn voor te hou, terwyl jy doelbewus diep in jou hart areas van jou lewe van God weghou. Judas skryf van uiterlik godsdienstige persone wat godsdienstige aktiwiteite gebruik om innerlike sondes te verberg. “Verskriklik sal hulle lot wees, want hulle het dieselfde pad as Kain geloop” (Judas 11). Ons kan God getrou dien, sy lof besing en selfopofferend gee, maar as dit nie in opregtheid is nie, is dit nie vir God aanvaarbaar nie. Het die Here prioriteit in jou en my lewe en oor ons drome? Is Hy vir ons meer werd as die sonde wat ons so maklik versoek? As ons onsself volkome en met alles wat ons het aan Hom gee, sal Hy ons gawes nooit wegwys nie.