’n Groep tieners wat op ’n uitreik na Jamaika was, was besig om op die strand vlugbal te speel toe hulle skielik bemerk dat ’n bootjie in die nabye omgewing omgeslaan het. Dadelik het hulle die spel gestaak en nadergehardloop om hulp te gaan verleen. Daar vind hulle toe ’n groepie professionele vaarders besig om te probeer om hulle boot weer om te keer. Die tieners het in die vlakwater ingestap en hulle gehelp en spoedig was die boot omgedraai en weer gereed om die see aan te durf. Wat daardie dag by die Karibiese see gebeur het, herinner my aan wat soms in gemeentes plaasvind. Die “professioneles” die pastoor, kerkraad en ander wat opgelei is om die gemeente te lei, moet ’n taak verrig wat hulle nie alleen kan doen nie. Dis dikwels ’n worsteling om die werk in die gemeente gedoen te kry totdat die gewone gemeentelede toetree en ’n handjie bysit. Dit was die situasie wat in Handelinge 6 ontstaan het. Sekere persone in die gemeente was verwaarloos en die “professioneles” die apostels, het besef dat hulle nie alles alleen kan doen nie – hulle het hulp nodig gehad. Eers toe sewe van die gewone lidmate ingegryp het, kon die gemeente weer reg funksioneer. Is daar nie dalk ’n “omgekeerde bootjie” in julle gemeente nie? Moet jy nie dalk hand bysit om sake reg te stel nie? Kom ons staan saam, sodat die gemeente vorentoe kan beweeg.