Die spotprenttekenaar, Scott Adams, het bekendheid verwerf met sy komiese karakter Dilbert. Hy het ook gedurende die 1990’s ’n boek geskryf met die titel The Dilbert Principle. Daarin spot hy met tegnologie, swak leiers en onbekwame bestuurders. Baie mense lag hardop wanneer hulle hierdie beskrywings op hulle eie situasies en tekortkominge van toepassing maak. Ten opsigte van luiheid en bedrog van werknemers skryf hy: “Wanneer dit daarby kom om werk te ontduik, het ek beslis by kenners kers opgesteek. Na nege jaar … weet ek alles wat daar te sê en te doen is om besig te lyk sonder om regtig besig te wees.” Gelowiges het egter ’n baie hoër roeping wanneer dit jou werk en jou verpligting teenoor jou werkgewers raak. In die Bybel word ons geleer dat ons ’n houding van respek teenoor ons werkgewers moet toon. “Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag, maar terselfdertyd met ’n opregte hart asof dit vir Christus is. Moenie net werk om … in mense se guns te kom nie … doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie” (Efesiërs 6:5,6,7). Om die regte houding ten opsigte van jou beroep of werk te hê, moet jy glo dat jy in die diens van die Here staan, dat Jesus Christus as ’t ware jou werkgewer is. Dit is vir Hom welgevallig as ons ons werk met ywer en getrouheid verrig.