Nie lank gelede nie het ek ’n kursus in origami bygewoon. Hierdie naam is afgelei van twee Japannese woorde wat beteken “om papier te vou.” In hierdie proses word die stuk papier omskep in ’n voël of een of ander unieke formaat, deur ’n reeks geometriese voue en kreukels. Die kursus is aangebied deur Hitoshiro Akehi, ’n Japannese broeder in Christus. Terwyl ons die papier op allerhande maniere gevou het, het meneer Akehi ons iets van sy lewe vertel. As die jongste van 11 kinders is hy deur sy ma grootgemaak nadat sy pa gedurende die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Deur baie wendinge, het sy familie met Christene in aanraking gekom en gevolglik het baie van die familielede Christene geword. Terwyl ek ’n stuk papier in ’n nuwe vorm gevou het, het ek daaraan gedink hoe die Here elkeen van ons vorm. Eers gebruik Hy omstandighede wat ons op ons knieë voor Hom bring. En dan gaan Hy voort om deur genade, en baie draaie heen, ons te verander om meer en meer soos Jesus te word. Gaandeweg word ons verander “om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun” (Romeine 8:29). Het jou lewe onlangs ’n onverwagte wending geneem? Onthou, in die hande van ons Skepper en Formeerder is ons “gemaak wat ons nou is” (Efesiërs 2:10). Ons is onvoltooide kunswerke en God gebruik die draaie van die lewe om ons meer soos die Seun te maak.