’n Paar weke gelede het my vrou ’n dame ontmoet wat ’n saamry geleentheid nodig gehad het en omdat my vrou aangevoel het dat die saak van die Here was, het sy ingestem om die dame op te laai. Gedurende die rit het die vrou gesê dat sy ’n dwelmprobleem het en alhoewel sy ’n gelowige is, sukkel sy baie daarmee. My vrou het geluister en die dame met deernis hanteer. Deur haar optrede het sy aan die dame nuwe hoop gegee en ek dink dat die vrou in ’n sekere sin ’n stukkie van hemel op aarde beleef het. Toe God aan Moses die opdrag gegee het om die tempel volgens sy instruksies op te rig, was dit sodat die volk die Here se teenwoordigheid kon aanvoel. Ek dink daardie aanvoeling kan as ’n stukkie van die hemel beskryf word. Die tempel was immers die fisiese uitbeelding van die teenwoordigheid van God op aarde (1 Konings 5-8). Die doel waarom hierdie heilige plekke ingerig is, was om die volk ’n bewussyn van God se nabyheid te gee. Dis dan ook die rede waarom Jesus, die volmaakte tempel, “onder ons kom woon het” (Johannes 1:14). Toe Jesus opgevaar het na die hemel het Hy die Heilige Gees gestuur om in sy kinders te woon (Johannes 14:16-17). Die doel was sodat ons God se “tempels” op aarde sou wees (1 Korintiërs 3:16; 6:19). As verteenwoordigers van God, laat ons soek na maniere om die hoop van die hemel aan ander te bring sodat hulle iets van die hemel kan beleef.