Die Chester Beatty biblioteek in Dublin, Ierland, bevat ’n besondere versameling van antieke Bybelse fragmente. Een baie klein fragment is ’n gedeelte van Johannes 19. Hierdie gedeelte van Johannes se evangelie beskryf die oomblik toe Jesus aan die kruis gehang en sy moeder voor hom gesien het. Hy het deernis en liefde teenoor haar betoon. Die woorde kom uit vers 26 waar ons lees: “Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: ‘Daar is u seun.’” Toe ek daar gestaan het en na hierdie fragment gekyk het, is ek opnuut getref deur die kosbaarheid van Jesus se liefde vir sy moeder en sy vriend. Met helder en duidelike woorde het Hy die wêreld laat verstaan dat Hy besorg was oor Maria en dat Hy wou hê sy vriend, Johannes, moes na haar omsien na sy dood. Terwyl Hy daar aan die kruis gehang het, het Hy aan Johannes gesê: “Daar is jou moeder” (Johannes 19:27). Van daardie uur af het die dissipel Maria in sy huis ingeneem. Ek dink dit sou ’n wonderlike idee wees om op hierdie Moedersdag jou liefde vir jou moeder weer openlik, helder en duidelik te verklaar – as sy nog lewe – en indien sy reeds dood is, dank die Here vir wat sy vir jou tydens haar lewe gedoen het. Probeer om op ’n tasbare wyse te toon hoe lief jy haar het en hoe baie sy vir jou beteken het. Dank die Here vir haar.