Toe die wreedhede en afgryslike oorlogsdade Nanking in Sjina getref het, is vroue nie die geweld gespaar nie. Baie is aangeval, verkrag en doodgemaak. Dit was gedurende hierdie tyd dat Minnie Vautrin haar dit ten doel gestel het om Sjinese vroue teen die geweld te beskerm. Sy was ’n sendeling wat onderwys gegee het by die Ginling kollege in Nanking en het saamgewerk met sendelinge, dokters en besigheidsmense om ’n “veiligheidssone” vir Sjinese vroue te skep. Duisende vroue en dogters het daar skuiling gevind. Ons lees in die Bybel dat Rut en haar skoonmoeder, Naomi, ook beskerming nodig gehad het. Om as weduwees te oorleef, moes hulle are gaan optel op die lande. Soos die gewoonte was, het Rut ’n losser nodig gehad, ’n familielid van haar oorlede man, wat met haar sou trou en so die familie sou voortsit. Boas was die regte persoon wat hierdie rol kon vervul. Hy is besonderlik geraak deur die simpatieke wyse waarop Rut vir haar skoonmoeder, Naomi, gesorg het en ook die feit dat sy haar skuiling by die Here, die God van Israel, gesoek het (Rut 2:12). Boas het toe op ’n eerbare wyse voortgegaan om Rut te versorg en hy het met haar getrou. Toe was dit vir hom moontlik om vir haar en Naomi onder sy sorg te neem. Ons finale toevlug is tot die Here Homself (Psalm 46:2). Nogtans wil Hy ons gebruik om ’n veiligheidssone vir ander te skep.