Wanneer ons ’n legkaart bou, dan weet ons dat al die stukke nodig is as jy dit suksesvol wil voltooi. In baie opsigte is die lewe ook so. Ons spandeer ons dae om al die los stukke ineen te voeg, sodat ons ’n volmaakte geheel uit al die los dele tot stand kan bring. En tog, soms wil dit voorkom asof daar iewers ’n stuk ontbreek. Miskien het ons die stukke verkeerd inmekaar probeer sit. Alhoewel ons weet dat ’n lewe sonder God ’n lewe is wat die belangrikste stuk verloor het, leef ons soms asof ons dink Hy is nie juis belangrik nie. Al woon ons elke Sondag die eredienste by, kan ons regtig sê dat Hy die middelpunt van ons lewe en ons bestaan is? Soms raak ons gewoond daaraan om ver van God af te voel, asof Hy net nie daar is nie. Dit maak dit baie makliker vir ons om sonde te doen, en dit laat ons net weer besef dat iets iewers fout is. Daar is iets wat ontbreek. Maar ongeag hoe ver ons van God afdwaal, Hy wil by ons wees. Hy het deur Jesaja ’n beroep op sy volk gedoen: “Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is, en versadig kan word met die beste wat daar is” (Jesaja 55:2). Is daar tans iets wat in jou lewe ontbreek? Onthou dan dat God die enigste Een is wat daardie leemte volledig kan vul. Laat Hom die foto van jou lewe voltooi.