Vandag is Nasionale Eerlikheidsdag in die VSA. Dis nie ’n baie bekende benaming vir 30 April nie, maar dis nogtans ’n belangrike dag. Die skrywer, M. Hirsh Goldberg, het hierdie Nasionale Eerlikheidsdag in die vroeë negentiger jare van die vorige eeu ingestel in ’n poging om eerbaarheid en integriteit aan te moedig. Hy het 30 April gekies, want hy het gesê “April begin met ’n dag wat aan die leuen toegewys is (April Fool’s) dag en behoort op ’n hoër morele noot te eindig.” Eerlikheidsdag sou ’n goeie geleentheid bied om hierdie eienskap volgens God se Woord te bekyk. Eerlikheid is nie iets wat baie maklik kom nie – tog moet ons dit voortdurend nastrewe. Om eerlikheid werklik te begryp, moet ons verstaan dat ons God – ons beste voorbeeld – waarheid is (Deuteronomium 32:4). Hy kan nie ’n onwaarheid vertel nie (Numeri 23:19; Hebreërs 6:18). Boonop sê die Woord Hy haat alle valsheid (Spreuke 6:16-19). En dan moet ons nie vergeet nie dat alle leuens by Satan self begin (Johannes 8:44). Ons kan die volgende Skrifgedeeltes as ons gids gebruik: “Die regverdige haat leuens” (Spreuke 13:5); Liefde “verheug hom oor die waarheid” (1 Korintiërs 13:6); die leuen is deel van die “ou, sondige mens” (Kolossense 3:9); “hou dan op met huigelary” (1 Petrus 2:1) en “’n getuie wat lieg, maak alles vals” (Spreuke 12:17). Kom ons maak elke dag ’n Eerlikheidsdag.