Die bufferplakker, Jesus is my medevlieënier, word seker goed bedoel, maar dit het my nog altyd gehinder. As ek self in die beheer van my lewe is en agter die stuurwiel sit, is my bestemming onseker. Jesus is nie bedoel om net ’n mede-vlieënier te wees en net nou en dan raad te gee nie. Nee, Hy moet altyd agter die stuur wees, altyd! Ons sê dikwels dat Jesus vir ons gesterf het en dit is baie waar. Maar daar is meer as net dit. Omdat Jesus aan die kruis gesterf het, het iets ook in ons, sy kinders, gesterf – die mag van die sonde. Dis wat Paulus bedoel toe hy gesê het: “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Galasiërs 2:19,20). Ons is as ’t ware saam met Hom gekruisig en met Hom in beheer, is sekere van ons vorige bestemmings nou nie meer toeganklik nie. Ons mag nie meer op die paaie van selfsug, gierigheid en wellus wandel nie. Ons mag nie in die moeras van hoogmoed en die put van bitterheid beland nie. Ons is saam met Hom gekruisig en Hy sit nou agter die stuur. Hy het gesterf sodat Hy beheer kan oorneem. Dus, indien jy gesterf het en Christus in jou lewe, is Hy beslis nie jou mede-vlieënier nie. Dis jou vreugde om Hom toe te laat om die stuur oor te neem. Daar mag hier en daar ’n bult in die pad wees, maar jy kan seker wees dat Hy jou na ’n goeie bestemming lei.