Gedurende die jare 1920 tot 1930 het die fotograaf, August Sander, hom ten doel gestel om ’n deursnee van die Duitse samelewing uit te beeld. Deur die lens van sy kamera het hy fabriekswerkers en finansiers, akteurs en huisvroue, Nazi’s en Jode gesien. Alhoewel dit wat hy publiseer het slegs die mense rondom sy woonarea in Cologne uitgebeeld het, het hy tog ’n “deursnee beeld van die mensdom in sy beperkte omgewing” aldus David Propson in die Wall Street Journal, weergegee. Daardie frase voel vir my soos ’n baie goeie beskrywing van die lewe en van die mense wat ons elke dag ontmoet. Waar ons vandag ook al mag gaan, oral ontmoet ons mense met ander agtergronde en uiteenlopende gelowe. Die apostel Paulus het vir jare rondgereis en oral waar hy gegaan het, het hy die evangelie verkondig, voordat hy in Rome in die tronk gesit is. Daar het hy steeds die boodskap uitgedra, omdat hy wou hê mense moes die evangelie hoor en tot geloof kom. Die boek Handelinge sluit af met die vertelling dat Paulus, wat in huisarres in Rome is, “almal ontvang wat hom besoek het [en] … die koninkryk van God verkondig” (Handelinge 28:30,31). In plaas van om op sy eie situasie en sy beperkinge te fokus, het hy geleenthede raakgesien en benut. Dis ook vir ons die sleutel tot ’n vrugbare lewe. Daar is ’n hele mensdom vandag nog binne ons bereik. Kom ons reik uit.