Dit was ’n lang en bitter koue winter en ek verlang na warmer weer. Ek is moeg om blaarlose bome te sien met dooie blare wat oral rondlê. Ek verlang om weer veldblomme te sien wat hulle verskyning maak en bosse wat weer groen begin word. Nogtans, elke keer as ek aan my geliefkoosde seisoen dink, dan onthou ek my moeder se waarskuwende woorde: “Moenie jou lewe wegwens nie.” Indien jy soos ek is, sal jy ook seker af en toe sê: “Wanneer dit of dat gebeur sal ek … of as daardie persoon net so sou optree dan sou ek … of … ek sou gelukkig wees as dit of dat gebeur … of … ek sal tevrede wees wanneer dit gebeur …” Indien ons altyd na een of ander toekomstige geluk verlang, vergeet ons dat elke dag – ongeag hoe die weer of die omstandighede mag wees – ’n gawe van God is wat ons tot sy eer en verheerliking moet gebruik. Die skrywer, Ron Ash sê: “Ons is waar ons behoort te wees en besig om te leer wat ons behoort te leer. Hou dus vol op die pad, want die dinge wat ons vandag ondervind sal ons lei na die plek waar die Here ons môre wil hê.” Gedurende elke seisoen is daar oorgenoeg rede om bly en dankbaar te wees en om goed aan ander te doen en die lewe te geniet (Prediker 3:12). Die uitdaging vir elkeen van ons is om elke dag iets te vind waaroor ons dankbaar kan wees en iets goeds wat ons kan doen – en om dan albei te doen.