Ek woon in Chicago en gevolglik hou ek van bergklim. Oor naweke in die somer sien ek dikwels amateur bergklimmers wat geen idee het wat bergklim regtig behels nie. In kortbroeke en sandale, T-hemde en met ’n enkele waterbottel pak hulle so teen tienuur soggens die roete aan. Hulle het geen kompas, geen kaart en niks om hulle teen reënweer te beskerm nie. My buurman, wat ’n vrywilliger by Alpine Rescue is, het my al vertel van toeriste wat van ’n sekere dood gered is, nadat hulle van die roetes afgedwaal het. Alpine Rescue is altyd bereid om te help as ’n noodkreet ontvang word. Nooit sal hulle die ongelukkige stappers verwyt dat hulle nie die nodige voorsorgmaatreëls getref het nie. Hulle taak is om mense te red en hulle sal elke stapper te hulp snel, hoe agterlosig hulle ook al was. Die sentrale boodskap van die Bybel is ook om mense te red. Paulus verduidelik dat nie een van ons redding verdien en in staat is om onsself te red nie. Soos die verdwaalde stapper kan ons maar net om hulp roep. Hy kwoteer die Psalmdigter en sê: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie, daar is nie een wat na die wil van God vra nie” (Romeine 3:10-11; Psalm 14:1-3). Die goeie nuus van die evangelie is dat ongeag ons verlore toestand, God altyd bereid is om te help. Ons kan sê Hy is in die “reddingsbesigheid”.