Toe ek destyd lesings by ’n Bybelskool gegee het, het ek somtyds studente se take nagegaan terwyl ek in ’n restaurant koffie gedrink en vir my trein gewag het. Eendag het ek per ongeluk my hele koppie koffie omgestamp en die hele inhoud het in my briewetas beland. In meeste stede is die reisigers maar redelik stil, maar toe my koffie omgeval het, het dit so ’n opskudding veroorsaak dat dit beslis nie geïgnoreer kon word nie. ’n Man wat daar naby gesit het, het hardop gesê: “Slegste moontlike scenario!” Sy opmerking was ’n oordrywing! Nogtans is dit waar dat elke mens ’n inherente vrees het dat iets dramaties nog kan gebeur; miskien finansiële verliese, die dood van ’n eggenoot of kind, kanker of enige ander ernstige siekte of net doodgewone swaarkry. Die boek Job skilder vir ons ’n “slegste moontlike scenario!” Nogtans het Job met wysheid God se rol in al sy probleme deurdink. Hy sê: “Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud” (Job 23:10). Van hierdie wyse opmerking kan ons twee belangrike dinge leer: Die eerste is dat dit wat ons die meeste vrees deur God gebruik kan word om ons karakter te toets en ons sterker te maak. Die ander een is dat die Here die krag en deursettingsvermoë sal voorsien sodat ons die situasie kan hanteer. Hou vas aan die Here. Hy het belowe om namens ons op te tree, selfs in die slegste moontlike scenario.